Mediavrystelling | Kom Rock in my Taal met Francois van Coke, Die Heuwels Fantasties, Saarkie en vele meer by Carnival City!

Francois van Coke en Die Gevaar

Francois van Coke se sololoopbaan het in April 2015 met ’n knal afgeskop toe hy sy gelyknamige debuutsoloalbum geloods het. Die daaropvolgende jaar kan as ’n jaar van grenslose sukses met talle nommer een treffers, uitverkoopte vertonings, toekennings en verpletterde rekords beskryf word. Van Coke se tweede soloalbum, Hierdie is die lewe, is twee maande gelede vrygestel en weer eens ry hy die golf van sukses. Van Coke en sy groep gaan vanjaar op publieke aandrang die verhoog met Die Heuwels Fantasties, Saarkie, The Sweet Resistance en vele meer deel by Rock in my Taal, die Afrikaanse rock-geleentheid van die jaar! Rock in my Taal vind plaas by Carnival City se Big Top Arena op Saterdag, 20 Mei om 20:00. Besprekings kan by Computicket gemaak word by 0861 915 8000 of http://www.computicket.com. Groepe van meer as 10 kry ’n stewige afslag; kontak asseblief Lefra Produksies by 011 815 3000, of stuur ’n e-pos na admin@lefra.com. Praat gerus met ons oor samewerking ten opsigte van fondsinsamelingsprojekte. Vir meer inligting besoek http://www.lefra.com of stuur ’n e-pos na info@lefra.co.za. Die konsert word moontlik gemaak met die vriendelike samewerking van Carnival City, Stuttaford Van Lines, RSG en Sounds Good.

 

Francois van Coke is die hoofsanger van Fokofpolisiekar en Van Coke Kartel. Tydens sy loopbaan van 13 jaar as hoofsanger van dié twee Afrikaanse rock-groepe het hy nege vollengte-albums en drie EP’s vrygestel, en saamgewerk met mense soos Jack Parow, Die Antwoord, Die Heuwels Fantasties, Seether en Karen Zoid. Hy het al vier SAMA-toekennings ontvang, sowel as talle ander. In 2015 is sy album, Francois van Coke, gunstig deur kritici ontvang; dit is gevolg deur sy tweede studio-album, Hierdie is die lewe, wat op 2 Februarie hierdie jaar vrygestel is. Francois sê die opname van die tweede album reeds gladder verloop as dié van die eerste een. My groep, Die Gevaar, werk saam met my aan al die snitte. Hulle het hierdie keer ’n groter aandeel aan die skryfproses gehad. Ons vat dinge stadig sodat ons meer as genoeg tyd het om iets fantasties te skep”.

 

Volgens Francois handel die album oor die menslike toestand. “Alles wat tussen geboorte en sterfte gebeur, ons oorwinnings en ons mislukkings, dit is die hooftema van die album, maar dit handel oor baie verskillende dinge. Dit gaan oor liefde, vriendskap, die toekoms, die verlede, die hede”, het Francois in ’n onlangse onderhoud gesê. “Ek dink die liedjies wat ek skryf is persoonlik en baie eerlik. Soms voel ek dit is selfgesentreerd, maar ek besef ook dat daardie die tipe liedjies is waarvan ek hou. Ek hou van mense wat eerlik en persoonlik is. Ek vind aanklank daarby en dit is dus die soort liedjies wat ek wil skryf.”

 

Die Heuwels Fantasties is ’n Afrikaanse alternatiewe pop-rock-groep van Bellville, Kaapstad. Hierdie baanbrekersgroep word beskou as die eerste suksesvolle Afrikaanse elektroniese groep. Hulle beskryf hul musiek as “melodieuse liedjies geskryf op akoestiese kitaar, en vertolk met elektroniese en organiese instrumente – noem dit pop as jy wil”.  Die Heuwels Fantasties is aan die begin van 2008 gevorm toe Hunter Kennedy en Pierre Greeff se onderskeie groepe ’n ruskans gevat het. Hulle het terselfdertyd hulle eie plaat-etiket, SupraFamilias, geskep.

 

Hulle word bewonder vir hul unieke musiek en energieke optredes, en hul bewonderaargetalle het sedert hulle ontstaan in 2008 geweldig toegeneem. Die Heuwels Fantasties het al by al die belangrikste feeste in Suid-Afrika gespeel en met vername internasionale kunstenaars die verhoog gedeel, insluitend ’n openingsoptrede vir Kings of Leon in 2012 en konserttoere in Nederland, België en die Verenigde Koninkryk in 2010.

 

Die Heuwels Fantasties het al elke vername toekenning in Suid-Afrika gewen vir hul musiek en musiekvideos. Hulle eerste album, Die Heuwels Fantasties, asook die album Wilder as die Wildtuin, het albei gouestatus behaal. Hulle derde album, Alles wat Mal is, het binne drie maande na sy vrystelling in Februarie 2013 goud behaal. In Mei 2013 het die groep ’n DVD, Live op Paul Cluver, vrygestel waarop die betowering van hul lewende optredes vasgevang is. Wens jy was hier, wat in Desember 2013 vrygestel is, is ’n luukse album wat bestaan uit ’n EP met vyf splinternuwe snitte, die Alles wat mal is album en die Live op Paul Cluver DVD. Die album het reeds op die vrystellingsdatum, 3 Desember 2013, sy debuut gemaak as Nommer 1 op iTunes. Hul grootste viniel-treffers, Deuntjies vir die Draaitafel, sowel as hul vierde, vollengte-album, Ja.Nee.Lekker, het in Desember 2014 die lig gesien.

 

The Sweet Resistance is ’n alternatiewe pop-rock-groep van Kaapstad. Hulle sing ritmiese, melodieuse liedjies wat die dieptes peil van die lewe, die liefde, vrywees en die kanse wat ’n mens kry. Die groep bestaan uit Natasha Meister, beter bekend as Tash, wat lei met sang en kitaar; Mike Vaughan speel baskitaar, klawerbord en sing ook; Gray Lowndes speel kitaar en Nick Ornellas behartig die dromme. Die groep is amptelik gestig nadat hulle hul debuutalbum opgeneem het. Tot op daardie stadium was hulle ’n handvol eendersdenkende musikante, vervaardigers en klanktegnici wat saamgewerk het om inspirerende liedjies te skryf en te vervaardig. Volgens Tash was die inspirasie niks anders as ’n oorweldigende begeerte om saam die musiek te maak wat in hulle en vir hulle was nie. Die groep beloof jou ’n soniese reis na ’n landskap van hoop, vasberadenheid, welwillendheid en inspirasie. Hul klank verpersoonlik die genres van alternatiewe elektro-pop-rock, wat baie in pas is met huidige luistertendense. Tash se boeiende sangstem sal jou ongetwyfeld meesleur, en so ook haar seldsame vermoë om meesterlike kitaar-‘hooks’ en die storievertel  en liedjieskryfkuns tot ’n eenheid te verweef.

 

Saarkie het die afgelope tien jaar diep spore kom trap in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf en kan deesdae beskryf word as die land se gunsteling vroulike rockgroep. Hierdie Ghoema (Beste Rock-Album van die Jaar, Beste Album deur ’n Groep of Duo, Groep van die Jaar)- en SAMA (Beste Rock-Album)-benoemde trio is self verantwoordelik vir elke aspek van hulle musiek en bied aan luisteraars ’n eiesoortige, energieke, bars-uit-jou-nate-musiekstyl wat getuig van hulle talent, passie en sinergie. Hulle funky elektries-akoestiese ritmes, solos en verhoogpersoonlikheid laat gehore van alle ouderdomme nader staan om saam te dans.

 

National Incident is ‘n nuwe groep wat vroeër vanjaar op die musiekhorison verskyn het, en het hulle eerste enkelsnit Take Your Time pas vrygestel.  Hulle musiek kan beskryf word as ‘n samestelling van alternatiewe en blues rock, R&B, soul en pop.

 

Die produksie word aangebied met die trotse ondersteuning van Stuttaford Van Lines, RSG en Sounds Good.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s